Hoe onthou jy jou Pa en Ma?

Deur Kotie Cilliers-Keyser

Elkeen van ons onthou staaltjies oor ons Pappas en Mammas of oor ons Oupas en Oumas of ander familielede. Ons soek hierdie staaltjies sodat ons dit kan deel met ander familie! Laat hoor dus van julle!

My niggie, Kotie Cilliers-Keyser, vertel hier hoe sy haar ouers onthou!

Ek gaan probeer om die storie van pa (Christiaan Johannes Cilliers) en ma (Magdalena Maria Margaretha Duvenhage} te skryf met die paar belangrike dinge wat ek kan onthou.

Pa het my ma op Koegas ontmoet, naby Prieska en Marydale in die Noord-Kaap waar die Cilliers-familie, gebly het . Hulle is die 20e Oktober 1935 op Niekerkshoop getroud. Pa het gehelp met die bou van die damwal by Douglas, maar het toe later saam met oupa Jan Arnoldus Cilliers (sy Pa) gaan boer. Oupa Jan het “Goewerment grond” bekom. En ‘n gedeelte van die plaas Naruchas is aan hom toegeken.

Ek onthou die huis waarin ons gebly het op Naruchas, waar pa en oupa Jan saam teen die Oranjerievier geboer het,’n sinkgebou . Hierdie huisie het bestaan uit ‘n groot kamer , kombuis en rietstoep. Oupa Jan en ouma Kittie se huis was soortgelyk, net ʼn bietjie groter. Ek is nie hier gebore nie, maar wel op die plaas Addeysestad-tussen die rooi – sy duine, naby Upington distrik Hay. My broer , Jan is in die sinkhuisie gebore, ouma Kittie was die vroedvrou.

Pa het die “boerdery” in 1942 vaarwel toegeroep en het by die Spoorwee op Karibib in die ou S

Suidwes-Afrika (nou Namibië) ʼn werk gekry. Hier het hy as arbeider onder oom Jan Visser, wyle Louis Visser se pa, gewerk. Louis was met Pa se suster, Toekie getroud. Omdat hy na Std. 5 uit die skool is, soos seker van sy ander broers ook, moes hy eers Std. 6 skryf om te kon vorder. Hy het dit ook toe gedoen en is as Baanmeester of Ploegbaas in 1947 na Narib, naby Mariental verplaas. Daama is hy na Otjiwarongo in ‘n beter pos, gestuur. Hy was baie kort in Otjiwarongo waama hy vir ‘n paar jaar op Epako, ʼn Spoorweg-sylyn naby Omaruru, gevestig was. Hierna is hy weer terug na Otjiwarongo en vandaar na Carnarvon. Hy het weer in 1969 teruggekom na Otjiwarongo, was vir ‘n jaar in Usakos en het uiteindelik in Maart 1971 afgetree en hy en ma het hulle in Omaruru op ʼn plot gaan vestig. Hulle het in 1982 die eiendom verkoop en hulle weereens in Otjiwarongo kom vestig. Hier is ma in 1984 en pa in 1990 oorlede.

Pa het nooit sy liefde vir die boerdery laat gaan nie, en altyd, waar hy ookal gebly het skapies en beeste aangehou. Hy was ook baie lief  vir die natuur en om te jag. Die see was ook een van sy liefdes en hy was baie lief vir hengel. Pa het die liefde vir leerwerk van sy pa, Jan geërf. Om manshare te skeer/sny was ook een van sy groot liefdes. Hy het baie vriende en familie se hare “gekap”. Ek het nog steeds die Kakaoblikkie waarin hy, vandat ek kan onthou, sy els en leerwerk items gehou het. Sy tassie met skêr, haarknipper, kam en doek is ook in my besit. Ek en Sakkie, my oorlede man, het ʼn paar jaar gelede ʼn kennis van ons albei, afkomstig van Karibib, en wat nou in Usakos woon, gaan besoek. Wat was my verbasing groot toe sy vertel dat pa haar eerste paar sandale in Karibib gemaak het. Ek het ook nog n “skoenlees”van pa in my besit.

Pa het ook verskeie toekennings in sy dienstydperk in die S.A. Spoorweë ontvang vir uitstaande diens gelewer.

Tot sover nig Kotie se storie.

Vertel gerus vir ons hoe jy jou ouers of oupas en oumas, ooms of tantes of enige van jou ander familielede onthou! Daar is gewoonlik ook snaakse of grappige staaltjies in families. Ons deel dit graag!

DEEL DIE STORIE

Share on facebook
Share on twitter
Share on linkedin

Leave a Comment