Pappa Petrus Jacobus Cilliers (Deel 1)

Ketelmaker op die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens toe stoomlokomotiewe nog gebruik is, jagter, versamelaar van posseëls, prospekteerder vir minerale en half-edelgesteentes, hengelaar, rugbyspeler, deeltydse brandweerman, noodhulpkenner en -opleier.

Dan het hy ook ʼn besonderse kop vir syfers gehad. ondanks die feit dat hy net std. 8 (graad10) op skool geslaag het. Hy het my gereeld met my rekenkunde (of soos ons dit genoem het – somme) gehelp.

Maar dit was nie al nie. Hy het ook verskeie van die sakeondernemings op Usakos in die ou Suidwes-Afrika (nou Namibië) se boekhouding gedoen!

Ja, dit is hoe ek my pappa onthou! Hy was dit alles en nog meer – ʼn liefdevolle vader vir sy kinders.

Hy was ook ʼn prospekteerder en versamelaar van half-edelgesteenstes. Dan het hy ook posseëls versamel. By dit alles was hy ʼn kranige hengelaar en het graag tyd by die see by Swakopmund deurgebring. Hy het na sy aftrede op die ouderdom van 60 jaar na Swakopmund verhuis en daar saam met sy tweede vrou, Martha Sophia Venter gebly tot en met sy oorlye in die ouderdom van 82 jaar.

This image has an empty alt attribute; its file name is Pappa-as-jongman.jpg

Pappa het ook vir Usakos se eerste rugbyspan as oopkantflank gespeel. Hy het sy stewels opgehang nadat hy vir ʼn tweede keer ʼn sleutelbeen tydens ʼn wedstryd gebreek het.

Hy was eweneens ʼn bedrewe skrynwerker en het meubels uit dolfhout gemaak. Dolfhout is Namibië se kiaathout. Dit het op my oupa se plaas in die distrik Grootfontein gegroei. Daar het baie dooie boomstamme rondgelê. Pappa het dit daar bymekaar gemaak en met die goederetrein na Usakos laat vervoer.

By die huis moes ek hom van kleinsaf help om dit met ʼn treksaag in planke op te saag. Daardie tyd het daar nog nie al die elektriese gereedskap bestaan wat ons vandag ken nie. Hy het hoofsaaklik met ʼn handsaag, handskaaf, hammer, tang skroewedraaier en beitels gewerk. Lym en vernis moes self aangemaak word. Die vernis is in sulke bruin velle gekoop wat ek met die hammer moes fynkap en dan is dit met warm water aangemaak totdat dit bruikbaar was as vernis.

Ons het op Usakos teen die Namib-woestyn gewoon. Hy het ook graag gejag en baie springbokke en gemsbokke in die Namib-woestyn naby die Spitzkoppe geskiet en ons het altyd biltong in die huis gehad.

Dan het hy ook graag snoeker by die Spoorweginstituut op die dorp gespeel en het selfs ʼn toernooi of twee, drie gewen.

Pappa het later by die werk op die Spoorweë in ʼn ongeluk sy een oog verloor en is uit diens gestel. Hy het daarna ʼn jaar of twee as kantoorklerk gewerk. Toe het hy ʼn bakkery saam met ʼn swaer van hom begin wat ‘n opgeleide bakker en sjef was. Die bakkery is na ʼn paar jaar gesluit.

Die Oranjerivier loop deur Koegasputs, Pappa se dorp van geboorte, en verdeel dit in Bo-Koegas en Onder-Koegas. Daar was ‘n blou-asbestosmyn wat van die beste gehalte blou-asbestos in die wêreld gelewer het. Dié myn is in 1974 deur die destydse regering gesluit na dit begin blyk het dat baie van die paar duisend mynwerkers asbestose gekry en sommige gesterf het.

In die jare tagtig het van die naasbestaandes van die gestorwenes ‘n klasaksie teen die mynmaatskappy in Londen in Engeland geloods. Die hof het in hul guns beslis en hulle het almal uitbetalings van die mynmaatskappy gekry.

Die huise en geboue is op ʼn veiling verkoop en die kopers moes alles afbreek en wegneem. Die boere in die omgewing het almal hul plase verlaat en die hele gebied het vir jare lank leeg gelê.

Onlangs het ʼn klompie bruin boere van die plase by die regering gekry en voer hulle tans ʼn bestaansboerdery daar. Een van die nuwe boere is Sol Bosch wat sy lewelank op Koegas woon.

Mnr. Bosch het pas ʼn boek oor Koegas van toeka tot nou die lig laat sien. Dit bied ʼn baie goeie blik op die dorp se vroeë dae en bevat ook baie foto’s van die inwoners en die dorp van vroeë dae.

Tans woon daar niemand meer op die dorp self nie. Net die fondamente van die afgebreekte huise kan nog gesien word. . Wat wel nog daar is, is die ou kerkgebou en kerksaal wat nog ongeskonde daar staan.

Nadat Pappa die bakkery gesluit het, was hy ʼn ruk lank werkloos. Toe breek bek-en-klouseer in Botswana uit en moes die grens tussen Suidwes en Botswana bewaak word om te verhoed dat die siek beeste oor die grens kom.

Die Regering het vrywiligers gevra om die grens tussen die twee lande te patroleer en te bewaak en Pappa het dadelik die kans vir werk en ʼn Inkomste aangegryp.

Tydens die lang tyd wat Pappa daar langs die grens diens gedoen het en dus weg van sy huis en gesin was, het hy daar in die bos ʼn aangrypende gedig geskryf wat destyds in die Suidwes-Afrikaner gepubliseer is.

(Soos julle kan sien, was my pappa ʼn man met vele fasette in sy lewe. Dit was inderdaad nie al nie. Ek sal later nog een en ander van sy merkwaardige lewe skryf!)

0
Tagged : /