Ek Ry Trein – COD

Dit was ʼn Vrydag. Ek onthou dit nog soos gister. Dit was Vrydag 4 November 1959.

Ek het pas my laaste eksamenvak by die Universiteit van Pretoria klaar geskryf. Dit was die einde van my eerste jaar aan die universiteit..

Ek het die namiddag met die bus van Hatfield af na die middastad gery om my horlosie by die horlosiemaker af te haal wat dit herstel het. Ek het weer die bus terug huistoe gehaal.

By my kamer aangekom, het ek my laaste goedjies ingeppak en alles reggesit vir die treinreis die volgende dag (Saterdag) Windhoek toe vir ‘n lekker lang vakansie van vier maande.

Maar net daar kry ek toe die skok van my lewe! Ek ontdek toe mooitjies dat my beursie verdwyn het tussen die middestad en Hatfield. Moes ‘n sakkeroller gewees het.

Daarin was my laaste tien pond en my treinkaartjie terug huistoe – na Windhoek in Namibiė (toe nog Suidwes-Afrika).

Na ek met myself kajuitraad gehou het, het ek besluit ek gaan ryloop Windhoek toe! Dis is net 1 800 kilometer ver. Daardie dae het die motoriste nog rylopers opgelaai.

Ek het sommer vroeg die volgende oggend met my koffer in die hand in die pad geval met ‘n paar pond in my sak wat ek by een van my maters geleen het.Ek kan nie meer onthou hoe ek by die grootpad gekom het nie. Daar was natuurlik toe nog nie snelweë nie.

Ek het die dag dit gelukkig getref en genoeg geleenthede gekry om Bloemfontein te haal. Ek was sommer vroeg daar en het by ‘n meisie aangedoen wat ek geken het en ʼn paar lekker soentjies gekry. Kort daarna het ek weer in die pad geval en vroeg die volgende oggend in De Aar aangekom.

Daar was ‘n vriend van my wat ‘n assistent-stasiemeester was. Hy kom toe met ‘n baie interessante oplossing vir my dilemma.

Hy weet te vertel dat ek met die trein COD/KBA (Cash on Delivery/Kontant-by-Aflewering) kan ry en hy reël dit net daarendan. Alle treine na Windhoek het destyds op De Aar-stasie by mekaar aangesluit. Wel ek ry toe COD/KBA met die trein tot op Upington waar my stiefvader en my moeder woon.

EK ry trein CODOp die stasie aangekom, wag Stiefvader my saam met ʼn Spoorwegkonstabel op die stasie in. Die konstabel het my ferm aan die arm gevat en saam met Stiefvader na die kaartjieskantoor begelei sodat daar vir die kaartjie tot daar betaal kon word. Daarna het Stiefvader ook vir my ‘n kaartjie na Windhoek gekoop.

Die volgende passasierstrein na Windhoek sou eers oor ʼn paar dae weer verbykom. Ek kon dus nog baie lekker by die huis kuier.. Ek het die trein toe darem weer veilig gehaal waarna ek rustig tot by my eindbestemming kon gaan.

In daardie dae het die passasierstrein (die Transoranje was sy naam) vyf dae lank van Pretoria na Windhoek gery. Dit was nog in die dae van stoomlokomotiewe.

Ek het toe nooit die lange vakansie rondgelê nie, maar vir my ʼn werk gesoek. En raai waar kry ek toe werk? In die tronk as spesiale tronkbewaarder vir drie maande. Dit was nou vir jou ʼn ander ondervinding. Maar dis ‘n storie vir ʼn ander dag!

 

Leave a Comment