Skoonma ween saam

ʼn Staaltjie uit die lewe van my skoonma, Johanna Dorothea van der Merwe, soos vertel deur my vrou, Helma Cilliers

Mamma was in heel my lewe tot hiertoe een van die min mense wat wáárlik kon saamween met dié wat ween.

Ek onthou: Ek was in standerd vyf toe ek ‘n paar dae uit die skool uit moes bly met ‘n verstuite enkel, wat ‘n lélike swelsel veroorsaak het! Dit het op Platfontein in die voor-Karoo gebeur, waar ons een winter huurgrond vir die skaap gehad het, en ek vir Rita (my jonger suster) probeer abba het. Net toe ek ou Rita so op my rug skud, swik my voet onder my en kom ek met ons albei se gewigte op die harde witklipkors – wat eie was aan die Karoowerf – te lande. Terloops, dit was al na Pappa se dood; toe was Onder-Brakrivier, ons destydse Karoo-plaas, al verkoop.

Nóú: In dié tyd ry ek eendag saam met Mamma en Jannie in die Kaizer van Platfontein af die Ceres-Karoowêreld in. Sjoe, maar hét ons gery – oor Karoovlaktes heen – waar ek daardie dag vir die eerste keer in mense-heugenis gekom het. Eers het ons by ‘n skone, vriendelike, spierwit-gryskop ongetroude dame uitgekom, wat daar op dié verlate Karooplaas – stoksiel-alleen – háár plaas – woon. Kyk, as ek hier praat van verlate, dan praat ek wáárlik van verlate, waar mens die stilte kan hoor ráás!! – Só stil soos nét stíl soos stilte kan wees. Mamma het hierdie vrou blykbaar uit haar kinder- of jongjare geken, Daphne Quinn. Hier het ons egter nie lank vertoef nie.

Die éíntlike uittog was na ‘n weduweetante op ‘n plaas met ‘n hele paar verstandelik gestremde, volgroeide kinders. (Soiets het glo in die ou dae meer as een keer voorgekom as gevolg van ondertrouery in families.) Ek dink daar was dié dag een jongmeisie en twee jongmans – almal die tante se kinders, wat by haar op die plaas gewoon het. Wás hulle bly toe ons daar aankom?!

Mamma en die tante het behóórlik ‘n hond uit ‘n bos gesels, terwyl hulle vir ons middagete voorberei het. Een van die seuns het ook vir ons vleis gebraai.

Toe die tyd later die agtermiddag aanbreek dat ons moet ry, is dit asof ek Mamma nóú nog so hoor sê: “Ag tante, en ons twee het dan nou nie eers tyd gehad om saam by ‘n klip te gaan sit en húíl nie”. “Nee”, sê Jannie (dis nou ʼn ouer suster van my): “Watse geskree is dit dié? – Kom, laat ons ry”. Maar dit ís so: Mamma het vir my oor ‘n Godgegewe gawe beskik, waar sy haar só intens saam met haar medemens in sy leed kon inleef, dat dit op die ou end wáárlik-waar in saam-húíl geëindig het.

Leave a Comment