Die Storie van Orlèans se historiese Opstal: Stamplaas van die Cilliers, Celliers, Cillié families

Hierdie skets van die oorspronklike ou woonhuis op Orlèans is deur Desiree Picton-Seymour gemaak.

Net ‘n wonderwerk kan historiese Orlèans opstal red

Hierdie berig het in 1997 in die Kaapse koerant Burger verskyn oor die ou huis op Orlèans, plaas van stamvader Josué Cilliers. Die huis bestaan vandag nie meer nie en die plaas, wat aan die bekende wynplaas, Nederburg, grens, is tans ‘n woonbuurt bekend as New Orleans, net buite Paarl in die Wes-Kaap.

Deur Maureen Joubert

Heerengracht 40 Kaapstad 8001

2 Junie 1997

Dit is hartverskeurend om voor een van die oudste plaasopstalle in jou dorp te staan en te weet dat daar waarskynlik niks gedoen gaan word om dit te probeer red nie. Die skrif is teen die muur vir Orlèans, die plaashuis wat meer as 200 jaar gelede buite die Paarl opgerig is, nie ver van Kleinbosch nie, waar die Hugenote Gedenkskool vandag vir restourasie wag.

Dis te laat vir Orlèans tensy ‘n wonderwerk verrig word, wat in ons omgewing nie aldag gebeur nie.

Orlèans is in 1699 aan ‘n Franse Hugenoot, Matthieu Frachas, toegeken en het in 1713 die besit van Josué Celliers, die stamvader van hierdie groot familie in ons land, geword.

Maar toe W. A. de Klerk na die plaas verwys het in sy Klein Reis deur Drakenstein, was dit na aanleiding van die Paarlse verblyf van Estienne Barbier, die Franse sersant in diens van die VOC, wat sy amptelike geskrifte in ‘n taal opgestel het wat duidelike spore toon van die vervorming van 17de-eeuse Nederland tot Afrikaans.

Barbier se simpatie het by die plattelandse Africanders broederen by geleentheid as die “Afrikanders gebroedsels” bestempel gelê in ‘n tyd van swaarkry en ontbering vir die vryburgers wat ‘n bestaan moes probeer uitkarring op eiendom wat hulle van die Kompanjie moes huur of pag. In 1738 het hy in verset teen die VOC amptenary uit die Kasteel gedros en afgesit na Drakenstein, waar hy skuiling gekry het in die huis van die weduwee Celliers op Orlèans.

Die vraag het by die skrywer ontstaan of Barbier bloot toevallig op Orlèans beland het. Was daar nie dalk die een of ander band tussen die Celliers en die Franse sersant nie? Josué Celliers het immers die plaas na sy geboortestad, Orlèans, in Frankryk genoem en Barbier het ook van Orlèans gekom. Dit was dus nie onmoontlik dat daar in die Franse stad gemeenskaplike vriende of kennisse was nie.

Barbier het ‘n jaar lank op Orlèans vertoef en in dié tyd sy Avis van groot importentie (kennisgewing van groot belang) opgestel. Dit was ‘n breedvoerige uiteensetting van die besware van die vryburgers teen die Kaapse bewind.

Op 1 Maart 1739 het Barbier en sy kommando van sewe ondersteuners met volle mondering te paard en ene Hannes Ras sonder geweer te voet voor die deur van die Paarlse Strooidakkerk stelling ingeneem. Barbier het sy avis plegtig voorgelees en toe teen die deur van die kerk vasgeplak.

In November is die Fransman op Orlèans buite die Paarl in hegtenis geneem en deur die Raad van Justitie verhoor op verskeie aanklagte van hoogverraad. Ondanks die steun van ‘n groot aantal vryburgers moes Barbier op die allerwreedste manier boet vir sy verset teen die Kaapse bewind. Die vreemdste en in sekere sin “die mees miskende rebel in die geskiedenis van ons land”, soos De Klerk na hom verwys, is om die lewe gebring. Sy kop en regterhand is teen ‘n paal vertoon op die plek waar die treinspoor vandag die Tulbagh kloof ingaan op pad na die noorde as waarskuwing vir wie ook al versetgedagtes gekoester het.

Oor hierdie man het twee van ons bekende Afrikaanse skrywers onlangs ‘n roman geskryf: Zirk van den Berg met Wydsbeen en André P. Brink met Inteendeel.

Dis nou wat ‘n klein deel van die plaas se geskiedenis betref. Maar is daar argitektoniese regverdiging vir die bewaring van die opstal? Volgens ‘n onderhoud met verteenwoordigers van die RNG in ons plaaslike Paarl Post verdien Orlèans vanweë sy historiese en argitektoniese belangrikheid beslis bewaring, ook aangesien dit die laaste geskiedkundige gebou in die New Orlèans woongebied is.

Maar en hier lê die knoop die gebou is in besit van die plaaslike munisipaliteit, wat reeds gesê het daar is geen geld beskikbaar vir dié doeleindes nie. Skreiend verwaarloos.

Daar is reeds ‘n beroep deur die RNG op die publiek gedoen om geldelike steun, wat seker maar weer op dowe ore sal val.

Die gebou is die afgelope jare skreiend verwaarloos. Die agteruitgang is verlede week beklemtoon toe die noordelike muur van die huis in effens gure weer ineengestort het. Die enigste mense wat hierdeur geraak is, is haweloses wat die huis betrek het en van die een vertrek na die ander moes skuif.Paarliete het nog min bygedra tot die fonds vir die restourasie van die Gedenkskool. Dis seker te veel gevra om hulle by ‘n Red-Orlèans-projek te betrek.

Die Akte van Transport vir Orlèans is op 17 Augustus 1964 gekanseleer en deur die Munisipaliteit van die Paarl se besit gekom. Sien die kopie van die kanselering van die Akte van Transport hieronder.

0

Laat 'n boodskap