Woon jy tans in Kraaifontein, Brackenfell of Proteahoogte in die Kaap? Dan woon jy inderdaad op die eerste plaas van stamvader Josué Cilliers.
Die eerste plase wat in die Bottelary-gebied van Stellenbosch toegeken is, was in 1704. Dit was die plase Hazendal in 1704, Steenberg in 1705 en Het Kruijspad op 15 Maart 1712. Op Hazendal word steeds geboer.
Het Kruijspad is later in vier dele (gedeeltes A, B, C, D opgedeel soos aangedui op die onderstaande kaart) Die oorspronklike plaas was 59 morg 296 vierkante roede ( 51 hektaar) groot. Dit was geleë aan weerskante van die Ou Paarlpad (Nou bekend as die Bottelarypad) en is toegeken aan die Franse Hugenoot Josué Selie (ook gespel Cellier, Celliers, Cillier, Cilliers, Cillié, Sellier, Serrier en Sollier), en sy vrou Isabeau Couvret van Orléans.
Die Cilliers-egpaar het in 1700 met die Reijgersdaal vanaf Nederland hier aangekom. Heelwaarskynlik is Het Kruyspad kort daarna aan hom toegesê maar eers in 1712 aan hom toegeken. Dit het soms lank gevat tussen die toesegging en die toekenning van grondbriewe vir plase in die Kaap van toentertyd.
In 1712 is die plaas Orléans in die Paarl aan hom toegeken nadat die eerste eienaar Matthieu Frachassé, in 1711 na Nederland verban is weens veeroof van die Hottentotte. Op 11 Oktober 1713 is Orléans aan Josué Sellier oorgedra en op dieselfde dag word Het Kruijspad geregistreer in die naam van Hendrik Rodenburgh ná betaling van ƒ2800. Josué Sellier is in 1721 oorlede en het sy vrou en elf kinders agtergelaat.
Brackenfell
Uit argiefdokumente blyk dit dat die huidige Brackenfell reeds vroeg in die jare 1700 beskryf word as geleë oor de Kuyls Rivier by de Duyvenheuvel. Die naam Duyvenheuvel kom nog in dokumente voor tot aan die einde van die VOC-tydperk in 1795. Later word die heuwel Kanonberg genoem en nog later Kanonkop.
Die destydse owerheid het dit as ‘n kanonstelling gebruik en ‘n seinkanon met ‘n loop van 7 voet 6 duim (2,25m) lank en ‘n kaliber van 4½ duim (114,5mm), bo-op die ruwe granietspits geplaas.
‘n Interessante feit is dat hoewel daar in 1792 reeds lankal ‘n seinkanon op Duyvenheuvel in gebruik was, daar steeds in amptelike dokumente na die heuwel as Duyvenheuvel verwys word. Wanneer sou die naam Kanonberg dan in gebruik gekom het?
Die vroegste vermelding van die plaas Het Kruijspad vind ons in die Kaapse Argief in dokumente van die Raad van Justisie aangaande ‘n voorval wat in Januarie 1708 op Josué Seillier [sic.] se plaas plaasgevind het.
[…] op den laasten Januarij deezes jaares, met en beneevens eenige landbouwers, is geweest ten huize van eenen Josua Seillier, woonende op het Kruispad tusschen Bottelerij ende Tijgerbergen, omme gezamentlijk naar deezen Casteele op te komen, dat hij gevange zijn sweep missende, daarom in ‘t generaal aan het aldaar zijnd […]
Dit bevestig dus dat Josué inderdaad reeds in 1708 op die plaas gewoon het.
Veeplaas
Kruispad was van die begin af hoofsaaklik ‘n veeplaas. Goewerneur Willem Adriaan van der Stel het veeboerdery aangemoedig en teen 1701 was daar reeds ‘n veepos by De Kuilen wat aan Kaptein Olof Bergh behoort het. Goewerneur van der Stel is egter in 1707 uit sy amp ontslaan en moes die Kaap verlaat.
Op 6 November 1818 is die plaas Kruispad in die naam van Johan Hendrick Bruchheise geregistreer. Kruispad was toe reeds 1 356 morg 331 vierkant roede (857 hektaar} groot en het Kanonkop ingesluit. [gedeeltes A tot I] Die plaas het gestrek van Stellenberg en Hammansvlakte tot by Joostenbergvlakte in die noordooste. (Kyk na die kaart hieronder. Dit was werklik ‘n baie groot plaas.)
Die huidige Kraaifontein was dus ook deel van die plaas .Het Kruijspad Na 1818 gaan die plaas van tyd tot tyd in nuwe hande oor totdat Andries Brink dit op 26 Oktober 1888 op ‘n vendusie koop vir £1 000 en onmiddellik die deel wat vandag Kraaifontein is verkoop vir £250. Die bure wou van hom weet wat hy met die plek wou maak, want selfs ‘n dier kan nie die heel jaar deur daarop lewe nie. Die veld was suur en nie dwarsdeur die jaar vir veeboerdery geskik nie.
Nege jaar later het Andries Brink dele van sy plaas begin verkoop.
06 11 1897 Jacob J. Hamman 155 morg 545 vierkant roede (133 hektaar) (gedeelte F)
23 06 1899 Willem Huygens v.d. Worm 54 morg 500 vierkant roede ( 56 hektaar} (gedeelte G)
23 07 1901 George Henry Walton 399 morg 350 vierkant roede {342 hektaar} (gedeelte H)
18 08 1903 George Henry Walton 262 morg 161 vierkant roede (224} (gedeelte I wat Kanonkop insluit)
Totaal 872 morg 356 vierkant roede (747 hektaar))
George Henry Walton van Richmond, Yorkshire in Engeland het die gedeeltes gekoop wat vandag bekend staan as Proteahoogte met Kanonkop ingesluit en noem dit Bracken Fell. Bracken is ‘n versamelwoord vir geharde veldstruike, maar omdat die veldstruike in Skotland meesal uit heide bestaan dink die Skotte dadelik aan heide wanneer hulle die woord Bracken hoor.
Bracken kom oorspronklik van die Sweedse woord Bräken en omdat die struikgewas in Swede weer meesal uit geharde varings bestaan, het die woord oorspronklik varing beteken, by die plantkundiges bekend as Pteris Aquilina.
Fell is weer van die Noorse woord Fjal afgelei. Die woord het net een betekenis: koppie of heuwel. Burroughs skryf in sy Century Magazine “Many of these eminences in the north of England, too lofty for hills and to smooth for mountains are called fells”.
Die Skotte praat van “The brackened fell side”, as hulle wil vertel van ‘n heuwelhang wat oortrek is met heide. Kanonkop en sy plantegroei het dus die deurslag gegee aan die naam wat die dorp vandag dra, naamlik Brackenfell of dan letterlik varingheuwel of heidekoppie.
(Met dank aan Dalena Vollgraaff, Brackenfell … van toeka tot nou (Uitgegee deur skrywer, 2001).